In fisika is arbeid soos die naam aandui die kwantifisering van die werk wat gedoen word, of die inspanning wat deur 'n kragbron gelewer word om 'n voorwerp te verplaas. As die kragbron 'n konstante krag F lewer om 'n voorwerp oor 'n afstand s te verplaas in die rigting van die krag, dan is die arbeid W die produk van die krag en die afgelegde afstand: W = F·s.
In die fisika, meganika en ingenieurswese word die term arbeid gebruik omdat dit 'n noue verbintenis met die gebruik van die woord in die alledaagse lewe het. Wanneer ʼn sekere krag aangewend word om ʼn sekere voorwerp oor 'n sekere afstand te beweeg, word arbeid verrig. Die voorwerp kan omtrent enigiets wees en die krag kan byvoorbeeld spierkrag, swaartekrag of elektriese krag wees.
Arbeid word gedefinieer as die grootte van die krag (in die bewegingsrigting) vermenigvuldig met die afstand waardeur die voorwerp beweeg word. Die eenheid van krag is newton (N) en die van afstand is meter (m). As die twee nou met mekaar vermenigvuldig word, word newton-meter verkry. Een newton-meter word ook 'n joule (J) genoem. Dus 1 N.m. = 1 J.
Een newton is die krag wat nodig is om aan 'n massa van 1 kg 'n versnelling van 1 meter per sekonde te gee. As ʼn mens 'n massa van een kilogram aan 'n tou vasmaak, het jy 'n krag van ongeveer 1 0 newton nodig om dit vas te hou. As 'n mens nou die massa een meter oplig, is die arbeid verrig 10 X 1 N.m, wat 10 joules is.